Akademia is ʼn private hoëronderwysinstelling en het vanaf Januarie 2026 by die Paarl kampus doseerposte in elk van die volgende vakke in die Fakulteit Opvoedkunde beskikbaar: Afrikaans, Engels, Wiskunde, Lewensvaardighede, Natuurwetenskappe en Tegnologie en Sosiale Wetenskappe. Om vir die pos te kwalifiseer moet ʼn kandidaat oor goeie taalvermoë in akademiese Afrikaans beskik. Die kandidaat moet ook kundig wees in een of meer van die volgende dissiplines: Sosio-pedagogiek, Psigo-pedagogiek, en/of Algemene Pedagogiek. ʼn Kandidaat moet oor minstens ʼn BEd Honneurs-graad of ʼn ander verwante Honneurs-graad, ʼn professionele onderwyskwalifikasie, minstens een jaar hoëronderwyservaring in die onderrig in een of meer van die genoemde vakke en/of ten minste drie jaar skoolonderwyservaring in die onderrig van die genoemde vakke beskik.
Ervaring in versnitte leer (“blended learning”), blootstelling aan en vorige gebruik van onderwysmedia, kennis van en kundigheid in die elektroniese onderrig-en-leer-omgewing, praktykervaring, gepubliseerde akademiese artikels, en ervaring in die ontwikkeling van studiemateriaal sal in die kandidaat se guns tel.
Daar sal van die aangestelde dosente verwag word om ’n spektrum van akademiese en verwante take te verrig wat onder andere insluit die ontwikkeling, dosering en gehalteversekering van akademiese modules; die opstel van assesseringsaktiwiteite in ʼn versnitte-leer-omgewing; en die lewering van bystand en ondersteuning aan studente.
Die ideale kandidaat moet beskik oor sterk skryf- en redigeervaardighede; uitstekende kommunikasie-, aanbiedings- en interpersoonlike vaardighede; onafhanklik of in spanverband kan saamwerk; inisiatief kan neem en oplossingsgedrewe wees; goeie administratiewe en prioritiseringsvermoë hê; oor ʼn besondere vermoë beskik om werk onder druk te hanteer; ʼn passie vir Afrikaans hê; en as ambassadeur vir Akademia help om die instelling uit te bou.
Klik hier om vir die pos aansoek te doen. Aansoeke moet voor of op 2 Maart 2025 ingedien word. Stuur ʼn e-pos na personeelnavrae@akademia.ac.za indien jy probleme met die skakel ervaar.
Akademia behou die reg voor om nie ʼn aanstelling te maak nie.
Akademia is kragtens die Wet op Hoër Onderwys 75 van 1997 by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding geregistreer (registrasienommer: 2011/HE08/005). Akademia is deel van die Solidariteit Beweging