Akademia is ʼn Christelike, klassieke en onafhanklike hoëronderwysinstelling wat verbind is tot die uitnemende opleiding en vorming van studente vanuit en vir die Afrikaanse taal- en kultuurgemeenskappe. Akademia het ʼn pos vir ʼn voltydse koördineerder: Institusionele en Bemarkingsprojekte binne die Bemarking en Kommunikasie-afdeling beskikbaar. Die pos sal gesetel wees in die Paarl, Wes-Kaap.
Om te kwalifiseer vir die pos word ʼn baccalaureusgraad in Bemarking, Kommunikasie, Ondernemingsbestuur en/of Projekbestuur (NKR-vlak 7) vereis. Drie tot vyf jaar ervaring in bemarkingsprojekte, projekbestuur en/of institusionele ontwikkeling is ʼn voorvereiste vir die pos. ʼn Goeie begrip van die akademiese omgewing, sowel as bemarkings- en projekbestuurbeginsels, sal in die kandidaat se guns tel. Die posbekleër sal met die matriksstruktuur, operasioneel aan die bedryfsbestuurder in die Paarl en funksioneel aan die hoof: Bemarking en Kommunikasie in Centurion rapporteer. In noue samewerking met die bestuurders in Bemarking, sowel as Institusionele projekte en ondernemings, sal die suksesvolle kandidaat verantwoordelikheid neem om verskeie projekte soos bv. gebeurtenisse, funksies, opedae en uitstallings te koördineer.
Daar sal van die posbekleër verwag word om ʼn wye spektrum van take te verrig met betrekking tot institusionele en bemarkingsprojekte wat die volgende insluit: gemeenskapskakeling, ʼn goeie belewenis van Akademia te skep tydens funksies, verteenwoordiging by stalletjies saam met die bemarkingsadviseurs, betrokkenheid by die koördinering van institusionele ondernemings, skakeling met verskaffers en vennote, projekbeplanning, koördinering van bemarkingsmateriaal en drukwerk, en ander bemarkingsgeleenthede te inisieer. Daar sal ook van die suksesvolle kandidaat verwag word om ʼn bydra te lewer en inisiatiewe te identifiseer en van stapel te stuur rakende die uitbouing van Akademia se teenwoordigheid in die Wes-Kaap en bemarkingsgeleenthede. Die ideale kandidaat sal ook getaak word met die monitering, byhou van en verslagdoening oor projekvordering, asook vestiging van netwerke en verhoudings met belanghebbendes.
Die ideale kandidaat sal onderskei word deur uitstekende interpersoonlike, mense- en kommunikasievaardighede, sterk probleemoplossingvaardighede, administratiewe vaardighede en organiseringsvaardighede, energie en ywer, vermoë om onafhanklik en binne ʼn span te werk en inisiatief te neem, goeie tydsbestuur en prioritiseringsvermoë, deursettingsvermoë, goeie rekenaarvaardighede, die vermoë om onder hoë druk te funksioneer, ʼn oog vir detail en ʼn sterk etiese ingesteldheid.
Klik hier om vir die pos aansoek te doen. Aansoeke moet voor of op 20 April 2025 ingedien word. Neem kennis dat slegs aansoeke oorweeg word wat deur middel van die skakel ingedien word. Stuur gerus ʼn e-pos na pesoneelnavrae@akademia.ac.za indien jy probleme met die skakel ervaar.
Akademia behou die reg voor om nie ʼn aanstelling te maak nie.
Akademia is kragtens die Wet op Hoër Onderwys 75 van 1997 by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding geregistreer (registrasienommer: 2011/HE08/005). Akademia is deel van die Solidariteit Beweging