FAKULTEITSBESTUURDER: WES-KAAP

1. Fakulteite Ekonomiese en Bestuurswetenskappe, en Regsgeleerdheid

2. Fakulteite Opvoedkunde, Natuurwetenskappe, en Geesteswetenskappe

Akademia het tans twee voltydse poste vir fakulteitbestuurders van die fakulteite Ekonomiese en Bestuurswetenskappe (EBW), en Regsgeleerdheid asook vir die fakulteite Opvoedkunde, Natuurwetenskappe en Geesteswetenskappe met die aanvang van die 2026- akademiese jaar op die Paarl-kampus, gesetel in die Wes-Kaap, beskikbaar. Om te kwalifiseer word minstens ʼn relevante honneursgraad (NKR-vlak 8) vereis, hoewel ʼn tersaaklike meestersgraad tot die kandidaat se voordeel sal strek. ʼn Verdere vereiste is ʼn minimum van vyf jaar akademiese ervaring aan ʼn hoëronderwysinstelling, wat holistiese kennis van onderrig-en-leeraktiwiteite insluit. Bestuurservaring sal tot die kandidaat se voordeel strek.

Hierdie pos dien as sleutelrol om in samewerking met die departementshoofde en dekane te verseker dat die strategiese en operasionele doelwitte van die fakulteite op die spesifieke kampus verwesenlik word. Die suksesvolle kandidaat moet doeltreffende uitvoering van fakulteitsbeleid en akademiese programme op die satellietkampus verseker. Dit geskied deur nougesette samewerking met dekane en departementshoofde om akademiese en administratiewe uitdagings op die satellietkampus te bestuur. Die fakulteitsbestuurder sal ook aan die kampushoof van die Wes-Kaapse satellietkampus rapporteer, ten opsigte van die operasionele bestuur van akademiese aktiwiteite wat personeelbestuur van die twee fakulteite op die Paarl-kampus insluit. Die fakulteitsbestuurder sal, onder andere, verantwoordelik wees vir die dag tot dag operasionele bestuur van onderrig-en-leeraktiwiteite asook geëskaleerde studenteadministrasie en akademiese verwante prosesse en prosedures. Verder sal die fakulteitsbestuurder in samewerking met die kampushoof, dekane en departementshoofde die uitvoering van die fakulteite se strategieë verseker asook effektiewe kommunikasieprosesse fasiliteer. Die fakulteitsbestuurder sal onder meer personeel en ontwikkeling-aangeleenthede op die Paarl-kampus in oorleg met die kampushoof, dekane en departementshoofde hanteer.

Daar sal van die fakulteitsbestuurder verwag word om met ander afdelings binne Akademia te skakel.

Die ideale kandidaat moet oor goeie leierskap- en bestuursvaardighede, verbale en geskrewe kommunikasievaardighede, interpersoonlike vaardighede, priorisering- en tydsbestuursvaardighede beskik. Daar sal van die fakulteitsbestuurder verwag word om aanpasbaar te wees en inisiatief te kan neem om so ʼn ware ambassadeur vir Akademia te wees.

Klik hier om vir die pos aansoek te doen. Aansoeke moet voor of op 2 Maart 2025 ingedien word. Stuur ʼn e-pos na personeelnavrae@akademia.ac.za indien jy probleme met die skakel ervaar.

Akademia behou die reg voor om nie ʼn aanstelling te maak nie.

Akademia is kragtens die Wet op Hoër Onderwys 75 van 1997 by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding geregistreer (registrasienommer: 2011/HE08/005). Akademia is deel van die Solidariteit Beweging

Scroll to Top