Akademia is ʼn Christelike, klassieke en onafhanklike hoëronderwysinstelling wat verbind is tot die uitnemende opleiding en vorming van studente vanuit en vir die Afrikaanse taal- en kultuurgemeenskappe. Akademia het ʼn pos vir ʼn voltydse beampte: Studentelewe binne die Studentesake-afdeling beskikbaar. Die pos sal gesetel wees in die Paarl, Wes-Kaap. Die posbekleër sal spesifiek daarop fokus om ondersteuning te bied aan die bestuurder: Studentesake met koördinering en uitvoering van studenteaktiwiteite en -inisiatiewe by die Paarl-kampus.
Om te kwalifiseer vir die posisie word ʼn baccalaureusgraad met een tot twee jaar se ervaring in die ontwikkeling en vorming van jongmense benodig. Ervaring in studentelewe, koshuislewe, studenteondersteuning, beleidsformulering en/of projekbestuur sal in die kandidaat se guns tel. Dit is belangrik dat die kandidaat energiek is en hom- of haarself met Akademia se waardes en opvoedingsingesteldheid kan vereenselwig.
Die posbekleër sal nou saam met die Studentesake-personeel wat in Centurion gebaseer is asook die Studentesake-interns in die Paarl werk om studente- en koshuisaktiwiteite te beplan en uit te voer. Die pos behels gereelde interaksie en kommunikasie met die studente asook die studenteleierskap en -strukture wat insluit bystand en ondersteuning binne die Studentesake-afdeling, die reël en bywoning van studenteaktiwiteite asook die onderhou van verhoudings en netwerke in die gemeenskap en studenteomgewing, asook verskeie ander aspekte wat met projekbestuur en projekuitvoering verband hou.
Die ideale kandidaat sal onderskei word deur goeie menseverhoudinge, kommunikasievaardighede, probleemoplossingsvaardighede, doelgerigtheid en die vermoë om projekte te beplan en uit te voer. Vermoë om onafhanklik en binne ʼn span te werk en inisiatief te neem, goeie tydsbestuur en prioritiseringsvermoë, deursettingsvermoë, aanpasbaarheid, die vermoë om onder hoë druk te funksioneer, ʼn sterk etiese ingesteldheid en die vermoë om kreatief nuwe projekte en idees te inisieer sal in die kandidaat se guns tel
Klik hier om vir die pos aansoek te doen. Aansoeke moet voor of op 20 April 2025 ingedien word. Neem kennis dat slegs aansoeke oorweeg word wat deur middel van die skakel ingedien word. Stuur gerus ʼn e-pos na pesoneelnavrae@akademia.ac.za indien jy probleme met die skakel ervaar.
Akademia behou die reg voor om nie ʼn aanstelling te maak nie.
Akademia is kragtens die Wet op Hoër Onderwys 75 van 1997 by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding geregistreer (registrasienommer: 2011/HE08/005). Akademia is deel van die Solidariteit Beweging